Soos die titel, ‘Liefling,’ reeds verklap, is hierdie ‘n liefdesverhaal wat vertel word, deur gebruik te maak van bekende en geliefde Afrikaanse musiek van so ver terug as die 70’s tot nou! Die storie is ontleen aan die immergroen treffer van Gé Korsten – ‘Liefling’.
Hierdie ‘musiekfliek’ draai hoofsaaklik om die lewe van Liefling Marais, ‘n meisie met ‘n passie vir die lewe en ‘n neus vir avontuur! Liefling bly op ‘n plaas saam met pa Simon, ma Linda, broer Kobus, oupa Karel en huishoudster en vertroueling, Katy. Pa Simon is ‘n professor aan die universiteit en in sy klas ontmoet ons die drie trawante en boesemvriende – Jan, Pieter en Gert. Die seuns is ook Hartbeespoorters en Jan bly by sy Ouma, Elsa Ferreira.
Die storie skop af in ‘n Desembervakansie. Rykmansdogter, Melanie von Staden, het haar oog ferm gerig op die aantreklike Jan Ferreira wat weer sy oog op Liefling het. Die noodlot bring verliefdes, vriende, en sogenaamde vyande onverwags bymekaar. Hierdie is ‘n liefdesverhaal vol trane en lag, musiek en dans.