’n Jong onderwyseres van Oudtshoorn, Cybil Ferreira, sal enigiets in haar vermoë doen om te verseker dat haar projek by die plaasskooltjie, Kalfieskraal voortgaan. Sy droom daaroor om ’n sentrum te vestig waar die omgewing se kinders, wat swaarkry as gevolg van alkoholisme onder die grootmense van die Swartberg-vallei, veral oor naweke ’n veilige hawe kan vind.
Cybil se droom loop egter gevaar om gekelder te word nog voordat dit regtig van die grond af kan kom: Die grond waarop Kalfieskraal staan is, te koop en nie een van die moontlike kopers stel in haar projek belang nie. Nie eens Cybil se skatryk verloofde, die volstruisboer Meyer Labuschagne, gee veel om oor die toekoms van die projek of die kinders nie.
Cybil se laaste hoop is om die direkteur van Global Upliftment Fund, wat tans in die Klein Karoo opsoek is na projekte om te ondersteun, te oortuig om haar projek te befonds.
En dan verskyn Frans Coetzee op die toneel. Frans is ’n filmmaker met ’n gebroke hart, wat saam met sy span in die Klein Karoo is om ’n dokumentêre rolprent oor opheffingswerk in die omgewing te maak – en hopelik in die proses te vergeet van die liefde, vrouens en al die moeilikheid wat daarmee gepaard gaan.
Maar dan kruis Cybil en Frans se paadjies, en hulle albei se wêrelde word heeltemal omver gegooi.As Cybil haar hart volg, beteken dit dat sy haar drome moet opgee, of kan ware liefde haar drome vlerke gee? En is Frans bereid om die liefde nog ’n kans te gee?